n Proestraat waar jy kan eet

Overview

Published: 13/09/2011

by The Goji Team

Photos

waar jy kan eet So vertel my skoonma vir my van ‘n program op die skottel met die naam Proestraat. Sy brei nie vreeslik uit nie, maar dit klink vir my ligweg na ‘n kosprogram en as aspirant kok en kosliefhebber, neem ek stelling in voor die kassie en maak my reg vir inspirasie (ek weet hoeka nie wat ek vanaand gaan maak om te eet nie). Wat ‘n telleurstelling toe ek my vaskyk in ‘n kombuis waar niks kos gemaak word nie; net grappe. Onvervuld en ongeïnspireerd pluk ek my kopie van die George Herald nader en daar, lewensgroot, ‘n storie van ‘n proestraat in George op 16 en 17 September by PW Botha College. Dit word wel nie ‘n proestraat genoem nie, maar Cuisine du Terroir. Die uiteinde is egter dieselfde maak nie saak in watter taal dit is nie. Proe, gaan daar geproe word van die lekkerste disse en wyne in die Suid-Kaap. My mond water. Die eerste Garden Route on a Plate made possible by Margot Swiss International, breinkind van ons eie boesemkind, die nimlike François Ferreira, gaan inwoners van die Tuinroete behoorlik bekoor word deur die geure, kleure en smake wat opgedis word by hierdie smulpaap fees. Met ’n feestent met kuier areas, musiek en die beste van die Tuinroete se smake gaan vir seker in selfs die knorrigste kenner se smaak val. Die Cuisine du Terroir wat in die volksmond vinnig vertaal word na “kos van die aarde” is ‘n spesiale proestraat tussen al die feestelikheid deur wat eg Suid-Afrikaanse disse van Breyani tot Melktert, pap en sheba tot afval gaan voorsit. En vir die van ons wat nog altyd aan die hand van ‘n professionele sjef die fynere kunsies van kook wou leer is daar ook werkswinkels aangebied deur onder andere Dario Soresi (La Locanda), Karen du Plessis (Unilever) en ook François self. Daar sal ook werkswinkels oor Brandewyn, Port en die geheime van wynkultivars aangebied word deur ondermeer Meyer Joubert van Joubert Tradouw in Barrydale. Deelnemende restaurante sluit Transkaroo, Chef Alma, La Locanda, Top 2 Catering, Kafe Serefe en House of Flavour Cafe in terwyl die meesleurende aromas van die huis van NLR wyne, Ladismith Wyne, Karusa, Newton Johnson en Barrydale Kelders van hulle beste oesjare sal skink. Kaartjies is beskikbaar by deelnemende restaurante en PW Botha College teen R125 per boekie (25 proebewyse). Die bewyse word geruil vir proehappies en wyne. So merk sommer nou al 16 en 17 September in jou dagboek, stel vir jouself ‘n “reminder” of plak ‘n nota op jou voorkop –hierdie een mag nie gemis word nie. Vir meer inligting, kontak gerus vir Eden School of Culinary Art @ 044 884 0765 en kry solank jou palet reg vir ‘n smaakontploffing van sonop tot sononder. Dis mos nou proe uit die boonste rakke!