Eden kombineer sport en natuurskoon met Grootbrak Grabadoo

Overview

Published: 14/11/2011

by Goji

Photos

Die Suid-Kaap maak reg vir ‘n bobaas 2011/2012 feesseisoen. Met Kersversierings wat reeds van September af op winkelrakke pryk, en menige Gautenger wat alreeds die weke tel voor die trek af Tuinroete toe aanbreek, gaan dit behoorlik bondstaan kos.

Gelukkig is daar nie ‘n tekort aan interessante en feestelike dinge om te doen nie. Die area word nie verniet Eden genoem nie en is ‘n professionele fotograaf, aspirant kiekie vatter of selfs net enige iemand wat ‘n slimfoon het wat kan mik en druk se droombestemming. Verder is sport ook ‘n groot trekpleister en die Tuinroete bied jaarliks van die mees opwindende sportgeleenthede aan.

 Die kombinasie van die beeldskone natuur en ‘n endorfiengelaaide sportgeleentheid is dus die perfekte vakansie tydverdryf. En as dit nog ‘n familievriendelike dag is, nog beter. Gans te veel geleenthede dra deesdae die banier “jammer, geen kinders”. Vakansies is vir die gesin, tog nie?

 ‘n Geleentheid wat beide die sportentoesias in jou en die familievaste in jou perfek sal weerspieël is vir seker die Grootbrak Grabadoo, ‘n stap, draf en trap vir een en almal wat hou van baie natuurskoon en ‘n bietjie ‘kardio’. Die geleentheid vind hierdie jaar weer op die 31’ste Desember op Grootbrakrivier plaas en beloof om ‘n dag gevul met adrenalien, opwinding en pryse te wees.

 As jy ‘n kranige stapper of drawer is, kan jy vir die 4.8 of 9.6km roetes inskryf. Padfietsryers kan hulle oefening inkry voor die Argus deur in te skryf vir of die 20 of die 40km roetes. Bergfietsryers kan hulle tande slyp vir 15, 35 of 70km roetes met van die mooiste uitsigte in die Suid-Kaap (indien jy asem of tyd het om dit in te neem). Inskrywings open op 15 November 2011

 Die inskrywings maak binnekort oop, so maak seker jy maak gebruik van hierdie heerlike geleentheid om jou Nuwejaar met energie af te skop. Belangstellendes kan by Chas Everitt kantore in George, Sedgefield en Grootbrakrivier of aanlyn hulle deelname bespreek. Boonop kry die eerste 1200 inskrywings wonderlike somer geskenkpakkies waaronder ‘n lekker 8ta somerverrassing. Alle inskrywings wat klaarmaak kry ‘n medalje, ‘n Mitchum geskenk en Powerade.